What's New


2013-06-06
EET GERUS EIERS


'n Studie wat by die Connecticut-universiteit gedoen is, toon dat eiers 'n gunstige uitwerking op die HDL-metabolisme by mans en vroue met metaboliese sindroom kan hê. 'n Verlaagde HDL-cholesterolvlak is een van die abnormaliteite wat met metaboliese sindroom verband hou. Deelnemers het 'n koolhidraatbeperkte dieet gevolg met een groep wat drie eiers en die ander groep wat 'n gelyke hoeveelheid eierplaasvervanger per dag geëet het. Na 12 weke het die groep wat 3 eiers per dag ingeneem het, 'n merkwaardige verbetering in HDL-vlakke getoon, 'n toename in die aantal asook die grootte van die HDL-deeltjies. HDL-("goeie") cholesterol soek na vet in die bloedstroom en neem dit na die lewer vir uitskeiding, wat dit dan onwaarskynliker maak dat vetneerslae in die bloedvate sal opbou en tot arteriosklerose sal lei. 'n Ander studie aan die Universiteit van Missouri het bevind dat tienermeisies 'n groter gevoel van versadiging en verbeterde hormoonreaksies ten opsigte van honger en versadiging ervaar het nadat hulle 'n hoër proteïenontbyt met eier of beesvleis geëet het. 'n Baie belangrike bevinding was dat die meisies ook later in die dag minder gepeusel het, veral aan hoëvetversnaperings. Die resultate van hierdie studie het voortgebou op vorige navorsing wat getoon het dat die inname van proteïenryke kos, soos eiers vir ontbyt, eetlusbeheer verbeter het en gehelp het dat mense minder kilojoules deur die dag ingeneem het. Aangesien eiers 'n groot verskeidenheid voedingstowwe voorsien, wat proteïen en verskeie vitamiene en minerale insluit, kan hule 'n belangrike bydrae tot die gesonde eetgewoontes van tieners lewer.